Wakker slaap – die staat het sy oog op jou bitcoin

Die Nasionale Tesourie het middel April die konsepregulasies vir die bestuur van kapitaaluitvloei (die CFMR) gepubliseer. Hierdie regulasies vervang die ou wisselkoersbeheerregulasies van 1961 en bring kripto-bates vir die eerste keer formeel binne die kapitaalvloei- en wisselkoersraamwerk.

Dit vereis onder meer dat Suid-Afrikaners (én andere wat die land binnekom) kripto-bates moet verklaar, dat handel bo sekere drempels slegs via gemagtigde Kripto-bate-diensverskaffers (CASPs) of met uitdruklike Tesourie-toestemming mag plaasvind, en dat amptenare private sleutels en wagwoorde mag afdwing. Oortredings kan boetes van tot R1 miljoen of die waarde van die oortreding, asook tot vyf jaar tronkstraf, meebring.

Sogenaamde “self-bewaring” (self-custody) van kripto word swaar geknel, en daar is selfs sprake van moontlike gedwonge verkope aan die staat. Die Vryemarkstigting gee ernstige aandag aan hierdie nuwe regulasies en die breër implikasies daarvan vir individuele- en gemeenskapsvryheid. Ons besin deeglik oor hoe hierdie maatreëls eiendomsregte, finansiële privaatheid, en Suid-Afrikaners se vermoë om hulself teen hooghartige staatsbeheer te beskerm, ondermyn.

Lees die volle artikel in Rapport.